Western Cape Chapter: 2018 Year-end function and AGM

Geskryf deur Amorita Engelbrecht

Die komitee het besluit dat ons gans te min kuier en dus het ons Algemene Jaarvergadering en jaareindfunksie by die Protea Hotel in Saldanha plaasgevind. Dit beteken ‘n oorslaap. Ons weet die ekonomie kou maar en almal sal dit nie kan bywoon nie, maar ons kan darem ons Weskus-vriende ook tegemoet kom.

‘n Groep slaap sommer van Vrydagaand af oor – maak dit ‘n lekker lang naweek! Die hotel kyk uit oor die see. Ons kamer is lekker ingerig met ‘n handdoek, in die vorm van ‘n swaan, op die bed en ek wens sommer ons kon langer bly. Richard en Jackie Bokelmann van Port Owen, Hein en Riana Swanepoel, Gerrit en Isabel van Lambertsbaai, Andrew en Zelda van Vredendal en Russ en Riva kom ons verras. Lekker om hulle weer te sien! Die Van Niekerks is in vol sterkte uit Mosselbaai, asook Dick en Meisie al die pad van Kakamas. Oudlede, Ardus en Petro daag ook op, en sluit sommer aan vir volgende jaar. Ons ontmoet nuwe lede, Brenda Walker en Nico en Aletta. Die De Doorns-groep bring ook moontlike nuwe lede saam.

Gerdus se maanskoentjie is net af, maar buurman James gly op ‘n trappie en nou sit hy met ‘n skoentjie! Ons gesels al te lekker en moet aangejaag word om betyds by die vergadering te wees.  Dié word gou sonder probleme afgehandel, veral omdat die huidige komitee bereid is om nog ‘n jaar aan te bly. Baie dankie julle!

Voor aandete word erkenning gegee aan die manne en dames wat ekstra moeite gedoen het deur die jaar en toe sit ons aan vir ‘n heerlike aandete. Die tafels is soos gewoonlik weer mooi versier deur Gail en haar span. Die man wat die musiek verskaf, speel al die liedjies wat ons ken en ‘n paar dansers waag dit ook op die baan! Versadig gaan ons bed toe. Ons kamer is op die eerste vloer, dus maak André die skuifdeur wyd oop en ons slaap heerlik in die vars Weskus-lug.

Na ontbyt Sondagoggend vertrek almal terug huistoe. Ons was nog in die bed toe het Kraai al klaar huistoe gevlieg!

Dankie aan die komitee wat so ‘n lekker laaste byeenkoms vir 2018 gereël het.

For more photos of this event, please click HERE and HERE