Western Cape Chapter: Progressive run, Worcester – Malmesbury, 20 January 2019

Written by Amorita Engelbrecht

André was nie lus vir ‘n warm vrou op die Wing in warm Worcester nie, so ons is direk na Malmesbury, en weet dus nie wat die res in Worcester gedoen het nie.  Dit was ‘n heerlike rit van Gordonsbaai tot in Malmesbury, lekker koel en windstil.  In Malmesbury was Deon en Lizbe al slaggereed vir die Gold Wing-inval.  Ons het lekker gesels terwyl ons vir die res gewag het. Igsaan en Feroza daag later op met ‘n versameling heerlike samoosas. Ons het sommer dadelik begin proe.

Na ‘n veilige maar warm rit, kom die res ook aan. Dit is ‘n heen-en-weer groetery – ons het mekaar immers verlede jaar laas gesien! Percy en Elizabeth het gelukkig besluit om hulle Wing nog te hou; altyd lekker om hulle te sien.  Igsaan-hulle het vroeër ‘n man op ‘n Wing agtervolg tot by sy huis. Hy het seker gedink dis kapers. Toe nooi hulle vir Ronald Hendricks. Goed om hom ook te ontmoet; hopelik nie die laaste sien nie!  Die De Doorns-span, Gerdus en Cynthia, James en Roxanne en nuwelinge Pikkie en Hester, daag op met ‘n bakkievrag stroopsoet uitvoerdruiwe. Ons kon dit by hulle bestel teen ‘n BAIE billike prys, en hulle skenk die geld aan die klub. Baie dankie aan julle!  Jacques en Mandy, die pasverloofdes, het ook by ons aangesluit. Tog te lekker om soveel nuwe gesigte te sien.  Wynand en Anna, saam met hulle twee mooi kleindogters, het ook kom kuier. 

Ons het intussen al begin peusel aan vars brood en smere, totdat Lizbe en haar helpers die kospotte uitgedra het. Ons het omtrent weggelê aan die verskillende disse.  Daar is nog lekker gekuier en nuus uitgeruil totdat ons besef het dis tyd om huis toe te gaan, maar nie voor ons van die blokkieskoek en roomys geniet het nie.  Die Symingtons moes nog Strand toe om die Wing daar te los, toe Boston toe om hul dogter op te laai, en toe eers na Calvinia. Op pad kry hulle sowaar nog ‘n pap band, maar kom darem veilig tuis net voor elfuur! 

Dankie aan almal wat saam kom kuier het, Deon en Lizbe vir hul gasvryheid en groot bederf – hulle het ook ons bydraes vir die ete, aan die klub geskenk.  Baie dankie julle, dit word vir seker waardeer!  Veilig ry almal tot ons mekaar weer sien!

Sien al die foto’s HIER.