Western Cape Chapter: Run to Saldanha Bay on 17 February 2019

Written by / geskryf deur Amorita Engelbrecht

Wat sal ons nie alles doen vir die Wing Riders nie! Ons staan om 5 v.m. in Gordonsbaai op. André wil seker maak ons is betyds by ons bymekaarkomplek in Melkbosstrand. Dit is lekker koel en windstil. Dit is verbasend hoeveel verkeer daar om 6 v.m. op ‘n Sondag op die pad is. Ons is sowaar eerste, ‘n halfuur te vroeg, die hoenders het sopas opgestaan! Ons het net afgeklim toe kom Kraai aangevlieg, ons drink koffie en kry die eerste geselsies agter die rug. Die res kom so stuk-stuk aan. Feroza bederf ons met ‘n soetigheid net om ons bloedsuiker reg te kry vir die rit. Johan Hattingh het sy seun, Jean, saamgebring en ons nuwe vriend, Darin, daag ook op. Die manne maak kennis met Piet op ‘n splinternuwe 1800; hy het ‘n ander afspraak, maar Johan het hom sommer meer vertel van ons klub, dalk ‘n nuwe lid? 

Uiteindelik op pad, ry ons lekker tot buite Langebaan waar Vissie ons kom haal en deur agterpaaie lei om padwerke te vermy. By die hotel het die sekuriteit parkering vir ons oopgehou. Die res van die groep wag toe alreeds vir ons. Jackie Bokelmann is, soos gewoonlik, op haar eie Wing. Sy is nie ‘n agteroppie nie!

Ons eet apart in ‘n vertrek. Oesters en sjampanje vir voorgereg, is net die regte ding.  Daar is selfs lewendige musiek vir ons aangelê. Dit lyk soos dieselfde man wat by ons jaareindfunksie was – lekker musiek!  Die ontbyt was heerlik, te veel om van te kies, maar ons het ons bes gedoen om by al die disse uit te kom. Toe wys Percy en Elizabeth dat mens maar met ontbyt ook kan dans. Hulle het ‘n paar goeie draaie gemaak!

Dit was maar ‘n gesukkel om ons sover te kry om te groet. Almal het soveel stories om nog te vertel. Die pad terug was natuurlik besiger. ‘n Motor met ‘n CA-registrasienommer, met ‘n vrouebestuurder(!), terwyl ons wag vir ‘n opening om voertuie verby te gaan, kom sommer links in die geelstreep verby! En raai wat gebeur later? André sit sy flikkerlig aan om ‘n motor verby te steek, sal dieselfde antie nie sowaar reg voor ons inswaai nie! Almal het darem sonder probleme tuisgekom. Die hitte het ons eers by Somerset-Wes getref.

Baie dankie aan Igsaan vir al die reëlings en aan die hotel wat ons so lekker bederf het.

Sien al die foto’s HIER.