2018 Wing Fling

Written by Amorita Engelbrecht

Sondag 14 Oktober

Met twee wiele, drie wiele, op ‘n sleepwa, en met die trein kom almal sonder te veel probleme in Caledon.  Ons is net 68 km ver. Mens mis eintlik die ver ry, oorslaap en baie pret op die lang pad, maar die teruggaan is darem lekker net so oor die berg!  Peet van Walvisbaai het by ons oorgeslaap, en toe ons vroeg klaar is, besluit die manne ons ry sonder om vir Kraai te wag. Hy sê hy sal ons opvang, wat toe nie gebeur het nie.  Ons is weg uit Gordonsbaai voor die suidoos weer begin waai. Dit is waarom die noorde so lekker reën kry … ons waai in  ‘n ander bloedgroep in!  Die canola is klaar geoes (goeie nuus vir die ouens met hooikoors) maar ‘n paar weke gelede was dit ‘n pragtige gesig.  Gelukkig het Central se mense blykbaar ook weggekom voor die groot storms daar.  By Caledon wag ons rustig vir die ander, dis heerlik om ons ou vriende, Wynand en Anna, en Wempie en Neelie weer te sien. Die ander kom so stuk-stuk aan. Gerdus, met maanskoentjie aan sy voet, het ‘n plan gemaak met ‘n stuk draad om die ratte te werk. Ry sal hy ry! In ons kamers wag ‘n welkome geskenkpakkie, mooi baadjie en lekker wyn in ‘n oulike houer, asook druiwesap. Baie dankie aan die borge, dit word hoog waardeer! Die aand verwelkom die Weskaap die ander. Daar is ‘n hele aantal wat vir ‘n eerste keer ‘n Wing Fling bywoon. Christo en ‘n kollega van Caltex sluit by ons aan vir aandete. Hulle borg ‘n petrolbewys, asook ander geskenke. Spesiale wyne word opgeveil, en goeie pryse word behaal. ‘n Trekking word vir ‘n spa-behandeling gehou, en Peet wen toe. Wonder wie vat hy saam as metgesel?!  Ons hoor later dat hy dit aan Delph en Ilse geskenk het. Na ete gaan ons vroeg bed toe om uit te rus vir die groot skoonmaak.

Maandag 15 Oktober

Dit het deur die nag gereën, maar klaar gelukkig op voor die Wings gewas moet word. Louw en Julia sluit by ons aan vir twee dae, en Peter en Margaret Stelling kom loer ook in. Arme Gail hardloop heeldag rond om te klein of te groot hemde en baadjies om te ruil. Ons Wing se battery gee oornag die gees, maar met hulp kom André ook by wasplek uit. Groepfoto’s word geneem. Johann Botha van Tygerberg Honda sluit hom by ons aan, daarna rus ons terwyl die beoordelaars hulle ding doen. Richard, Poena en Annelize ry deur Strand toe om ‘n nuwe battery te kry, asook om Poena se probleme wat opgeduik het, te gaan oplos. Dit is nou goeie vriende! Johan Hattingh veil weer van sy spesiale wyne op tydens aandete, die manne met liggies ry in die rondte en Johan vertel die geskiedenis van die Wing Riders van die begin tot 1988. Central hou ‘n vasvra – dit is groot pret … die manne moet net hulle 1800s bietjie beter leer ken! Ons tafel is duidelik nie groot sportkenners nie!

Dinsdag 16 Oktober

Die dag begin koel en windstil. Kraai kry darem almal betyds by die wegtrekplek. Gerdus het ook batteryprobleme. Ons kom reg, so die nuwe battery gaan na hom. Met die hulp van die plaaslike verkeersmanne, kom ons maklik deur die dorp en ry deur die groen lande, die besonderse Hemel-en-Aardevallei tot in Hermanus, waar ons sowaar ‘n paar walvissterte sien uitkom uit die see! Hendrik-hulle se familie kom gesels en verder kry ons soos gewoonlik baie bewonderaars wat foto’s neem van die Wings! Op pad na Agulhas is dit bietjie winderig. Almal parkeer by ons eetplek en ons sing ons Wing Song sommer op die sypaadjie! Die kos is heerlik. ‘n Paar van ons gaan solank na die vuurtoring.Toe die res nie opdaag nie, gaan ons, Deon-hulle, Louw-hulle en Wynand saam terug. Kraai se bloeddruk het bietjie gestyg en hy het seker ‘n paar grys hare bygekry; dis nie maklik om so ‘n groot groep altyd bymekaar te hou nie, maar hy het hom goed van sy taak gekwyt! Die aand vertel Frank en Wynand verder van die Wing Riders se geskiedenis en daarna word ‘n paar pryse uitgedeel. Ons eet lekker braaivleis waarna Weskaap ‘n vasvra reël.  Ons tafel het maar redelik kleigetrap, ten minste was ons nie laaste nie!

Woensdag 17 Oktober

Weer ‘n lekker koel oggend. Maraai en Nic vat weer die pad Agulhas toe. Gelukkig kry Deon dit reg om hulle weer aan te keer in die regte rigting. By Boontjieskraal is daar groot groen sirkels met speke. Dit is koring. ‘n Paar weke gelede was die bruin gedeeltes goudgeel van die canola, regtig iets besonders. Ons ry ‘n pragtige roete na Villiersdorp. Die Theewaterskloofdam het darem water bygekry na die goeie reëns wat ons die winter gehad het. In die somer was daar net stof en sand. Voor die Franschhoekpas kry die verkeerspan ons en lei ons deur die pragtige pas, met die dorp wat onder lê, en met loeiende sirenes deur die dorp! Sakkie en Jolene van Zyl kry ons by die Motor Museum. ‘n Absolute belewenis, elke sent werd – ek het motors gesien waarvan ek nog net die name geken het!  Die verkeerspan lei ons verder deur Stellenbosch, weer met sirenes. Die publiek het baie duidelik van ons kennis geneem en ek vermoed die span het dit net so baie soos ons geniet! Ook in Kusweg in die Strand het ons die publiek se selfone besig gehou. Hier was die plaaslike blouligspan stil. By Talla’s Tavern in Gordonsbaai neem ons afskeid van ons begeleiers. Hulle het ons rit aansienlik vergemaklik. Dankie aan hulle en veral aan Johan en Kraai wat dit gereël het. Johann en Theresia kom saam eet en ons kuier heerlik. ‘n Paar van ons besluit om nie op te ry na die Steenbrasdam nie en ry direk terug na Caledon. Die Weskaap bly darem maar mooi, veral na die welkome reën die afgelope tyd. Die aand doen Hendrik die laaste geskiedenis, Gail en Nazli doen ‘n lekkerlag-item en dan volg die karaoke deel wat groot pret is, veral toe ons Cynthia se talent ontdek. Kevin en Piet Vlieg het ook nie op hulle laat wag nie!

Donderdag 18 Oktober

Die blou ligte help ons weer deur die dorp na die Sonskyn Kleuterskool waar ons ‘n bydrae gaan maak. Die kinders is duidelik opgewonde toe hulle die Wings sien. Die skoolhoof, Corina, verwelkom ons en ons sing weer – ‘n goeie idee … na dese ken ek die woorde amper uit my kop! Terwyl van die flukse lede motorbande verf, en die sandput reghark, sit die kinders doodstil en sing ‘n paar liedjies. Dit is lekker om te sien hoe gehoorsaam hulle is.  Van die manne neem ook die kinders vir ‘n rit op die Wings. Ons ry deur die woongebied, waar ons Amelia se tannie se dag gemaak het. Sy het dit baie waardeer dat ons die moeite gedoen het. By Abbey Rose in Greyton eet ons heerlik aan yslike porsies kos. Luke sluit by ons aan en ons vertrek om die Algemene Jaarvergadering by te woon. Dié verloop sonder probleme. Toe maak ons reg vir die Gala-aand. Menere Cassils en Johann van Honda, asook Carmen en haar kollega van die hotel sluit by ons aan vir aandete. ‘n Spoggerige geleentheid. Hendrik doen vir oulaas sy stuk oor Nelson Mandela, tot groot vermaak van ‘n kelnerin naby ons! Welverdiende pryse word aan Wing-eienaars uitgedeel. Ons eet vir oulaas heerlik en dié wat vroeg vetrek, gaan rus. Weer eens dankie aan Krish en sy span wat so hard gewerk het. Dit was ‘n lekker rustige week. Ook baie dankie aan die hotel, julle was altyd vriendelik en bereid om te help!

Vrydag 19 Oktober

Ons groet almal wat vertrek, toe kom André met die slegte nuus, ons Wing het groot elektriese probleme en sal nie verder kan ry nie! Maar met  Boet, Igsaan, Delph, Pierre en ander se hulp kom ons veilig tuis, gelukkig kon ons die week saamry en was ons naby die huis. Al die ander het ook blykbaar sonder te veel probleme tuisgekom. Tot volgende jaar, lekker en veilig ry!

Vir al ons foto’s van die 2018 Wing Fling, gaan asseblief na ons Gallery.