2019 Wing Fling – written by Cecile Rademeyer

 

Vrydag, 4 Oktober 2019

Ons ontmoet almal by Alzu en eet by Spur. Na ete pak ons die pad aan Barberton toe. Dis vrekwarm met ons aankoms daar en ons kry ietsie te drinke. Die mooiste uitsig begroet ons op die pas buite Barberton. Ons ry maar stop-stop. In Witrivier stop ons die laaste keer vir petrol en vinnige vingeretetjie. Anton drink die laaste bietjie koffie – al wil niemand glo dat dit net koffie is nie.


Ons bereik ons finale bestemming omtrent 16:30. Lieflike lugversorgde kamer begroet ons. Die groot uitpak begin. Daarna is ons almal rustig onder die bome. Daar word nie aandete by Little Pilgrims bedien nie en ons besluit om te gaan uiteet. Tussen Henda se kar en Willem se vrou het ons darem almal vervoer na Perry’s Bridge toe. (Johan Degenaar moes nou wel in die SUV se kattebak sit nadat Anton hom daarin toegemaak het.) Ons is ‘n gesellige klompie wat die ete geniet.

Terug by Little Pilgrims gaan kruip die meeste maar vroeg in. Ons kuier egter nog by Henda se kamer tot laat.


Saterdag, 5 Oktober 2019

Na ontbyt help ek die spannetjie vroue om die gaste se geskenkpakkies op te maak.


Sondag, 6 Oktober 2019

Vandag is die groot dag wat die Wing Fling 2019 amptelik begin.

Almal is woelig en aan die gang. Vlae en gazebo word opgeslaan. Tafels word reggesit met die geskenkpakkies, waterbottels, ens.

Die mense begin aankom en almal is maar lekker styf en moeg.

Ons eerste amptelike aandete is vol opgewondenheid.


Maandag, 7 Oktober 2019

Almal lag en gesels al van vroeg af. Die fietse word gewas en blink gevryf. Daar word geskerts en talle verskoninkies word uitgedink as die fotograaf foto’s wil neem van fietse wat nog nie 100% is nie.

Ons moet almal ons blou hemde aantrek vir die dag. Anton se hemp is te groot, maar danksy die twee Rethas en “metal stitching” pas die hemp darem.

Individuele foto’s word geneem en die fotograaf het haar hande vol om almal bymekaar te kry vir ‘n groepfoto in die hitte.

Meeste motorfietse vertrek na Perry’s Bridge toe vir die Concours d’Elegance. Terug by die Lodge koel sommiges af in die swembad terwyl ander net kuier en gesels. Aandete is weer by Wagon Wheel Saloon.

Natuurlik is daar weer ‘n groepie wat laat kuier. Ons verneem Willie voel nie lekker nie en terwyl Ronel en Heinrich hom help, besluit ek en Murray om saam met die ambulans (kar geleen deur Henda) te ry. Willie word opgeneem en ons is so 02:30 die oggend terug by die Lodge.


Dinsdag, 8 Oktober 2019

Na ontbyt vertrek ons in een groep tot by Graskop en daarna verdeel ons in twee groepe. Ons groep, Groep A, besoek Drie Rondawels, die Potholes en Mac Mac-poele waar ons lekker burgers eet onder die bome.

Ons was ietwat teleurgesteld by die Graskop Gorge want die hysbak het nie gewerk nie, maar die mooi uitsig en goeie geselskap het darem opgemaak daarvoor.


Woensdag, 9 Oktober 2019

Ons ry weer as een groot groep tot by Graskop en daarna is dit Groep A se beurt om Sudwala-grotte toe te gaan via Sabie. By die grotte het almal darem veilig bo uitgekom. Sommige mense is bietjie moeg en wou ‘n uiltjie knip.

Terwyl almal die grotte besoek, besluit ek om saam met my dogter en skoonseun die Fish Spa te doen.

Na die grotte bly party agter om daar iets te eet en te drink terwyl die res na Witrivier ry vir middagete. Gum Treez Pub and Grill se hoenderburgers is die beste.

Terug by die Lodge praat almal van die aand se verrigtinge – die Fancy Dress. Almal raak so stuk-stuk weg om te gaan reg maak vir die aand. Vir iemand wat nog nooit ‘n korset gedra het nie, weet ek toe duidelik nie hoe ‘n gesukkel dit is om daarin te kom nie. Ek is later so moedeloos, sê vir Anton hy moet ‘n vrou gaan soek om my te help. Daar is geen vrou naby nie want almal is al by die Numbi Hotel.

Na ‘n hewige gespook stap ons toe ook oor Numbi toe. Die liggiesparade was ‘n groot sukses en so ook almal wat spesiaal aangetrek het volgens die tema. Die grootste verrassing vir my was natuurlik die Non en Priester (Suzette en Jaap).

Die min slaap begin sy tol eis en ons kuier nie so laat soos gewoonlik nie.


Donderdag, 10 Oktober 2019

Dit het die hele nag lekker saggies gereën. Dit reën kort-kort gedurende die dag, so almal kuier by die kroeg. Ek besluit om myself te bederf met ‘n chemiese voetbehandeling en ‘n lekker kop-/skouers-/rugmassering.

Sommige lede gaan besoek die ouetehuis en oorhandig al die goedjies wat bymekaar gemaak is. Die AGM verloop goed. Die venue vir volgende jaar word bekend gestel en ons besluit sommer dadelik dat ons dit nie gaan misloop nie.

Die aand is heel deftig met almal wat so mooi aangetrek is. Pryse word uitgedeel en almal kuier weer soos gewoonlik baie lekker.

Sommige mense groet solank want hulle gaan die volgende oggend al vroeg vertrek.


Vrydag, 11 Oktober 2019

Ek is opgewonde om huis toe te gaan want mens begin mos nou al verlang – na die hond en die kind. Na ontbyt pak ons die laaste goedjies. Net na 10 vertrek die ”trein”.

Die laaste stop is weer Alzu. Ons eet middagete en groet vir oulaas. Elkeen ry van hieraf op hulle eie pas/spoed.

Ons is 16:30 veilig tuis en baie ryk aan herinneringe.

SIEN JULLE VOLGENDE JAAR!!