Written by Amorita Engelbrecht
Die “Club Captain” het ‘n lekker rit gereël vir ons – eers ontbyt by ons nuwe vriende in die Hexriviervallei, Gerdus en Cynthia en James en Rozanne, en daarna na Krish en Gail vir middagete. Ons was verras oor die groot aantal Wings wat opgedaag het.
Die oggend was lekker koel, ons het veilig gery en toe ons by Gerdus-hulle se plaas kom, wag daar ‘n feesmaal op ons! Almal het vermoedelik heeltemal te veel geëet, ons het lekker gesels en toe neem Gerdus ons deur hulle pragtige groen vallei – ons ry mos altyd net verby.
Die son het begin steek teen die tyd dat ons die pad teruggevat het terug stad toe. Ons was bly om by die Naidoos te kon afklim. Soos gewoonlik het Gail en haar helpers weer uithangkos voorgesit. Die laaste hongerpyntjie is gestil en daar is vir oulaas gekuier.
Baie dankie aan almal vir die heerlike dag, en spesiaal aan Gerdus vir die vroeë Kersgeskenk. Dit sal goed te pas kom in die dae wat voorlê.