Central Chapter’s Mystery Run: 18 & 19 March 2023

Written by Joekie du Toit

Jippie! …
Wat ‘n naweek! …
Wat ‘n rit!…
Wat ‘n Gold Wing!
Wat ‘n groep fantastiese Wing Riders!

Maar wag, laat ek by die begin begin. Die 24 ste Februarie pos Suzette vir ons ‘n uitnodiging na ‘n MYSTERY RUN toe: Een aand oorslaap, twee stoppe en omtrent 700 km lank. Teen die 8 ste Maart, laat weet Barbara vir ons dat die oornag lodge vol bespreek is, dat daar waar ons heen gaan, ons moet bike covers asook Peaceful Sleep saamneem. O genade, waarheen vat hierdie vrou ons?!

Vrydag, die 17de, word daar allerhande truuks uitgehaal om Barbara te kry om ons ‘n bietjie meer inligting te gee. Daar word gepraat van ekstra fooitjies, party van ons probeer aan haar hartsnare torring deur ons baie hartseer stories te vertel, selfs Stefan word genader met ‘n paar bier-offers, maar ons almal word teleurgestel – hulle lippe is gesnoer.

Die pin location word vir ons gestuur vir die ontmoetingsplek en ons moet asseblief op die kop 09:00 vertrek. Ek en Marius besluit ons sal 08:00 daar wees dan eet ons maar solank ontbyt terwyl ons vir die ander wag. Maar, o wee, toe ons daar kom is meer as die helfte van die mystery runners reeds daar en kort daarna is almal daar. Ons eet ontbyt en ons naweek se pret begin. Natuurlik laat nie Barbara of Stefan ‘n piep uit oor ons rigting of die finale eindbestemming nie, en so bly almal aan die raai. Ons vertrek vanaf die Engen Garage Freeway Park.

Ons begin deur op die N17 te ry Johannesburg se rigting. Daarna gaan ons op die N12 en draai af by die N1 Malibongwe-afrit. Daarna draai ons links op die R512 en daarna is ons op die N14.

So. Ja. Ons gaan Krugersdorp toe. Wonder wat is daar … wat gaan ons doen? Nee, ons draai alweer af. Deur die Cradle of Humankind. Die omgewing is pragtig en die rivier se water loop sterk en mooi.

Stefan trek in by die Oaktree Engen Garage. Ons het so 10 minute om koeldrank te koop, ‘n draaitjie te loop en ‘n vinnige smoke break in te kry. En daar gaan ons alweer.

By ‘n vierrigtingstop, draai ons links na Magaliesburg. Ek was laas daar toe ek nog ‘n kind was. Ons ry reguit deur Magaliesburg en draai links. Die bordjie sê weereens Krugersdorp, maar so ‘n entjie verder draai ons regs op die R560 Hartebeespoortdam-pad. Nou weet ons mos daar is baie lekker plekkies om te kuier. Daar draai Stefan weer. Nou is ons op pad Brits toe. Die natuurskoon is iets om te waardeer! Die wêreld is groen, die riviere loop sterk en die berge is pragtig. Teen hierdie tyd is ons honger, dors en ons kry warm, hoor! In Brits gaan ons weer dwarsdeur die dorp. Nou is ons op die R511-roete. Waarheen? Wie weet?

Vir middagete trek ons in by Beestekraal Stasie Restaurant, en word ons bederf deur die eienares wat elkeen van ons se helms mooi skoon maak. Dis ‘n baie oulike restaurantjie wat in die ou stasiegebou is. Daar is plek voorberei vir ons langs die spore. Heerlike koue drinkgoed en ‘n ligte ete. Het ek genoem ons kuier nog steeds? Sowaar, daar trek die Vespa-groepie in. Rassie kom kuier so ‘n bietjie saam met ons.

Barbara gee ons elkeen ‘n papiertjie en ons moet raai – draai ons volgende links of regs? Hoe ver tot die volgende draai?, vra ek. So … nogals ‘n entjie, laat sy my weet. Het ons nog ver om te ry? Nee, sy kan nou regtig nie onthou nie.

Omtrent 120 km verder kom ons by ‘n T-aansluting en ons draai regs. Thabazimbi is net ‘n paar kilometers verder. Ons ry deur die dorp, en sowaar daar draai ons alweer links. Ons gaan uit die dorp uit op pad Ellisras toe.

Ons draai af en ry by ‘n hek in. Die vriendelike Faan en Ronel wag ons in met heerlike koue koeldrank, water en ys. Stefan laat ons weet dis die einde van ons rit maar nie die einde van ons mystery nie. Nou hoe nou? Blykbaar het ons nog ‘n paar kilometers om te gaan, maar ons moet asseblief ons bike covers oor ons fietse trek en ons bagasie met ons saamneem.

Wel, ons is nou in for a penny, in for a pound, en ons maak soos daar van ons gevra word. ‘n Bussie daag op en al ons bagasie word ingelaai. Ons spring in en ons klomp herinner jou aan die Standerd 8 veldskool. Ons begin sommer sing soos jare terug, Omie trap die petrol dat ons vinniger kan ry … ons wil NIE huistoe gaan.

Die bussie stop voor die hekke van Komma Nader. Binne ‘n paar minute weet ons almal presies waar ons slaap. Marius is natuurlik eerste in die swembad, en daarna volg Frik. In ‘n kits ontspan almal langs die swembad met ‘n koue bier, of ’n ietsie, maar koud is dit gewis. Neels loop per ongeluk teen Barbara vas en sy beland klere en al in die water. Nou word elke kilometer bespreek, elke pothole, en al die wêreldkwessies word in ‘n japtrap opgelos. Ons kuier ‘n hond uit ‘n bos uit en die kroegman glimlag breed. My maag is naderhand seer van al die lekker lag. Het julle geweet Jane kan nog haar voet agter haar kop sit?

Die restaurant laat ons weet die ete is gereed. Maar voor ons aansit, is dit Marius se voorreg om vir twee nuwe lede by ons familie te verwelkom. Frik en Yvonne Senekal het reeds ingeval by ons WRSA-familie en hulle colours word aan hulle oorhandig. Baie geluk julle twee – mag julle nog baie kilometers saam met WRSA ry.

Die ete is uit die boonste rakke, en die kuier is een om oor huistoe te skryf. Die arme personeel staan en slaap, maar die Wingers kuier.

Sondagoggend is ontbyt reg teen 08:00. Na ontbyt gaan die kuier voort en die bussie laai ons 10:00 op om ons terug te neem na ons fietse. Steeds hou die kuier nie op nie. Ons sing Sarie Marais, die Wing Song en Neels jodel vir ons. Pret, pret en nog pret.

Baie dankie aan Barbara en Stefan vir al die reëlings en ‘n wonderlike, goedbeplande mystery run.

Hierdie is ook nie die einde van my storie nie. Annelize en Poena besluit toe Saterdagmiddag hulle het ook lus vir ry, en gou-gou is daar nog ‘n paar mense wat laat weet hulle ry saam. Vinnig word daar ‘n lys opgetrek en die Wingers wat nie die mystery run kon meemaak nie, gaan doen ‘n mystery STOEL run by Gas Monkey in Boksburg. Baie dankie julle! DIT is mos ons gees!

Jippie! …
Wat ‘n naweek! …
Wat ‘n rit!…
Wat ‘n Gold Wing!
Wat ‘n groep fantastiese Wing Riders!

Liefdegroete
Joekie

PHOTOS OF THE MYSTERY RUN