WC Chapter: Run to Ceres, 23 May 2021

Written in Afrikaans by Cynthia le Roux, Western Cape Chapter

Vanoggend vroeg sê Wynand per stemboodskap: “Dis die perfekte dag vir bike ry!” En dit was! Hoewel dit egter knypkoud was toe ons vanoggend by die huis weg is. Ons Worcester Wingers het mekaar by die mall se parkeerarea gekry. James met die Goue (Oue) … Gerdus en ek met die Lady in Red en Gladys, Kenny en seun. Ongelukkig is hul bike nie reg en moet eers herstel word. So ry ons tot by die indraai van die R43 wat uit die N1 loop en wat ons tot by ons eindbestemming, die Harvest Table Bistro sal neem. Daar kry ons die res van die Wing Riders.

Eerste is Boet, Delphius en Henda wat met Boet se voertuig opdaag. Skielik is dit of die prentjie nie heeltemal pas nie! Waar is Delphius en Henda se donkerpers trike? Boet se nuwe donkerrooi fiets? Gou vind ons uit dat Delphius na ‘n oogoperasie nie nou ‘ryvaardig’ is nie en Boet het gesorg dat hulle kan saamkuier! So kom die trikes en bikes een vir een aangery … en ook ‘n paar wat die pad verby ry! Daar is ‘n spreekwoord – soos die Kraai vlieg … en daar vlieg die Wing Riders se eie Kraai en gaan haal die afgedwaaldes!

Gou is ons voltallig en ry heerlik tot by die restaurant waar ons vir Pieter en Marietjie kry. Eers moes ons ons dors les en deur slukke cappuchinos, bier, sodawater en wat nog, bestel ons ons kos. Die geregte het gewissel van heerlike kerrie tot spareribs, pizza, steak en ‘n hamburger wat hernoem kon word tot die Toring van Babel! ‘n Yslike affêre! So tussendeur die heerlike eet en gesels, was Penny die fotograaf en het ons vroue ons Honda Hare (soos Marietjie dit noem) reggetrek vir die fotos! En so kom alle goeie dinge ook tot n einde.

Met die terugry het ‘n paar van ons deur Slanghoek gery. My gedagte was dat niemand wat nie ‘n Gold Wing het nie, ooit sal verstaan as ‘n mens sê die lug is blouer, die bome en gras groener en net die vryheid van bike/trike ry is onvervangbaar!

Nogmaals dankie aan almal wat hierdie dag gereël het – Kraai – en vir die heerlike saamkuier. Soos altyd was dit ‘n onvergeetlike dag.

Click HERE to view all the photos.