WC Chapter: Run to Saint Helena Bay, 18 April 2021

Written by Cynthia le Roux

Die Wing Riders is n gehoorsame klomp mense!! Toe ons hoor ons moet 8-uur vanoggend by die N1 City bymekaar kom, het die Wings al van 07:30 begin aankom. Om 08:00 was almal daar en toe kom ek agter ons mis ‘n paar van die skoner geslag. By verdere navraag het ek verneem dat Amorita iets geëet het wat nie met haar akkordeer nie, Mandy is siek, en Sandy en Chris kon nie saamry weens sy ongesteldheid. Edwina sal by ‘n volgende geleentheid weer saamry.

Om presies 08:15, toe Krish ‘die fluitjie blaas’, vertrek ons vanaf N1 City. Ek voel amper om soos die Queen ‘n handwuif te maak vir die mense wat regstaan met hul kameras om die klomp Gold Wings af te neem. Gou-gou is ons op die pad en die bikes en trikes laat loop. By Engen naby Langebaan, trek ons in om die tenks weer vol te maak. Daar kry ons ook vir Donny en Suzette, asook vir Pieter en Marietjie. Pieter se trike se linkerkantste voorste skokbreker se seël het gebreek en Marietjie probeer om hul helms skoon te maak van die olie wat in die proses op hul beland het.

Gelukkig kon hulle verder saamry en Pieter neem die voortou. Gou-gou is ons in St Helenabaai. ‘n Regte Weskus-dorpie! Sommer aan die begin, sien ek n nuwe uitbreiding genaamd JALOERSBAAI en ek wonder met ‘n laggie wat het aanleiding gegee tot hierdie naam.

Pieter neem ons na die OPPIEKAAI Restaurant. Marietjie merk op dat dit 33°C is en gou trek ons die baadjies uit en bestel lang glase yswater en koeldrank. Toe kom neem die kelner ons bestelling vir ete. Soos Gerdus altyd sê – by die see eet jy vis en tjips. Ek bestel gebakte snoek en slaai maar sien so uit die hoek van my oog Kraai se calamari lyk lekker! En vra vir die kelner vir n paar stukkies calamari by. Iewers het ons mekaar verkeerd verstaan … want toe my kos kom, raak die tafel stil. Krish vra so ewe of dit n platter is vir die tafel! Twee enorme stukke snoek, calamari hoofgereg, skyfies én slaai in ‘n bord so groot soos ‘n skinkbord!! Dit het vir vele pret, lag en grappies gesorg. Ek kon nie n duik in daai bord maak nie en het met omtrent drie-kwart van die kos in ‘n doggy bag huiswaarts gekeer.

Gewoonlik sluit ons ‘n maaltyd af met koffie. André het ook ‘n koffie bestel en kry die grootste koppie koffie wat ek in ‘n lang tyd gesien het! Ek besluit toe maar om die koffie te los … net-nou bring hulle vir my ‘n emmer koffie!

Ons het toe na die hawemuur gery waar Krish groepfoto’s en individuele foto’s geneem het. En so het n heerlike dag op sy einde gekom. Dankie aan almal betrokke wat die dag beplan het. Weer eens het die Wing Riders ‘n heerlike dag saam gehad en ons wens almal wat ongesteld is, beterskap toe!

To view the photos of this outride, please click HERE.