Western Cape Chapter run: Helpende Handjies in Montagu on 24 June 2018

Geskryf deur Amorita Engelbrecht

André is besig om ons Wing te diens, dus is ons met vier wiele op pad. Dit is bewolk en koud en van Stellenbosch tot voor die tonnel reën dit liggies.  By Worcester kry ons vir Krish, John Dreyer, die Nobles en Ceraj en Nazli, asook ‘n paar van die plaaslike motorfietsklub.  Dit lyk my die skoolvakansie en winterweer het ons maar redelik uitgedun!

Daar is besluit om KFC by Robertson te koop vir die kinders, so ons en Richard-hulle ry solank. Die pad is besig met haastige mense; die padwerke by Ashton en in die pas laat ons darem nie te lank staan nie. By Robertson kry ons die res van die groep, ‘n mooi klompie wat saamgaan.

By Helpende Handjies word ons deur die kinders en hulle “moeder”, Wilma, ontvang en die bydraes word afgelaai. Krish het ‘n hele bakkievrag water gereël wat Richard saamgebring het, en Jacques en sy groep ‘n bakkie vol groente, meel, koeldrank en ander nodige produkte.  Hulle sal later weer kom met voorrade.

Wilma en haar man en dogter bedryf die plekkie vanuit hulle huis. Hulle is absoluut op skenkings vir alles aangewese. Agt-en-veertig kinders van ‘n nabygeleë plakkerskamp kom soggens voor skool ontbyt eet, kry hulle pouse-broodjie en kom weer middae om te eet.  As daar iets ekstra is, gee sy dit vir hulle saam huis toe. Vir party is dit die enigste kos wat hulle kry. Sy help hulle ook met huiswerk voor hulle teen 5 n.m. huis toe gaan. Daar bly ook elf dogters en seuns wat geen heenkome het nie, permanent by hulle. Vakansietye is haar huis ook vol!

Ons braai ons kos terwyl die kinders aansit vir hulle KFC-happies. Dit is opmerklik hoe gehoorsaam hulle is. Elkeen het sy sitplek en die meisies dra hulle kos aan.  Daar word gebid voor almal wegval aan middagete. Ons kuier lekker in die sonnetjie en besef weer eens hoe bevoorreg ons en ons kinders is om veilig en versorg te kan leef!  Die kinders sing vir oulaas vir ons voordat ons vertrek.

Indien iemand in daardie rigting gaan en vir Wilma wil help, enige produkte  wat gebruik kan word vir sop en toebroodjies is baie welkom. Klere wat hulle nie kan gebruik nie, word verkoop en die geld gebruik vir voorrade. Dit is nou appeltyd in die Kaap, so ‘n paar sakkies appels sal seersekerlik welkom wees. Kom ons help vir Wilma met hierdie groot liefdestaak waarmee sy besig is. Kyk maar rond in jou eie omgewing, daar is nog vele soos sy wat altyd hulp nodig het!

Dankie aan Krish, John en die ander wat gehelp het met die reëlings. Dit was ‘n goeie dag gewees!