Western Cape Chapter: Run to Kleinmond on 19 May 2018

Verslag geskryf deur Amorita Engelbrecht

Ons wag al lank vir ‘n lekker bui reën, en dit lyk of dit die naweek kan gebeur!  Ons hou heel Saterdag- en Sondagoggend vroeg vir Krish op datum oor hoe dit hier in Gordonsbaai lyk – dit is waar ons bymekaar sal kom.  Dit is toe koel en bewolk, maar dit lyk nie of daar enige druppels gaan val nie.  By die petrolstasie is dit ons, Krish-hulle, die Taljaards en die verrassing toe Greg Franciscus saam met die Naidoos arriveer, nogal op ‘n 1500 Wing!  Op pad sluit Johan Hattingh en Heinrich Baadjies by ons aan. Heinrich is ‘n slag weer in die land, deesdae werk hy in Lagos.

Clarence-rylaan kuslangs, het onlangs ‘n nuwe blad gekry. Die oppervlak is lekker glad, die uitsig oor Valsbaai mooi soos altyd en die verkeer nog heel rustig.  Krish het gereël dat ons by Ian Read, ‘n vorige lid wat weens swak gesondheid nie meer kan ry nie, op Pringlebaai ‘n draai gaan maak.  Dit was goed om hom en Polly weer te sien. Polly bedien almal met iets te ete en drinke en ons gesels lekker oor die ou dae.  Dit laat ons besef hoe ons die ouer lede mis; ons raak maar goed uitgedun.

By Kleinmond se hawe wag Johan Visser en sy vriendin vir ons. Vissie het al Saterdag in die Kaap aangekom. By hom in die Weskus het dit gereën, dus het hulle met sy bakkie gery.  Die eetplek waar ons oorspronklik wou eet, lyk nog toe, en ons stap na ‘n ander een, waar ‘n buffetete aangebied word.  Ons was net betyds. Dit lyk na ‘n gewilde eetplek. Kort na ons daar kom, stroom die hongeriges binne!  Die personeel moes omtrent bontstaan om die bakke vol te hou. Dit was waarlik waarde vir geld en die atmosfeer lekker gesellig.  Na ete stap ons nog tussen stalletjies en winkels rond, en ek koop ‘n boek wat ek wil lees teen ‘n baie goeie prys.  Theresia loop familie raak, en Johann neem hulle vir ‘n draai op sy Wing. Dit lyk of die dames belang stel!  Toe is dit groet, opklim en terugry, steeds sonder om nat te word.  Dankie Krish vir die reël van ‘n baie lekker uitrit.