WC Chapter: Outride to Swellendam, 16 March 2024

Written by Amorita Engelbrecht

Ek word om 5 vm wakker, dit reën liggies en ek is amper lus om my wekker dood te druk, maar staan op om ‘n emmer onder ‘n geut te sit om darem bietjie reënwater op te vang.

Toe ons om 7:30 wegtrek met die Mazda, begin dit opklaar. By die Shell-bymekaarkomplek naby Gordonsbaai, is daar al heelwat Wingers. Tot Obed het vroeg opgestaan om saam met pa Boet te ry; Renthia is natuurlik op haar 3-wiel.  Dis koud maar lyk nogtans na ‘n lekker dag vir motorfiets ry.  Net oor Sir Lowry’s-pas val daar ‘n lekker buitjie, sommer mistig ook, en so was die hele dag, kort-kort reën wat uitsak, maar dit het nie die groep se spoed gebreek nie.

Ons moes vir Kenny en Gladys langs die pad kry, maar omdat ons ‘n halfuur later vertrek het (het vir Delph en Henda gewag) het die planne effe deurmekaar geraak.  Kenny bel my en ek kon hom toe sê waar ons al ry. Ons is toe sewe Wings en twee motors. ‘n Hele ruk ry daar so ‘n klein wit GP motortjie net voor ons, en hy gaan niemand verby nie. Toe besef ons dis Delph en Henda. Hulle moes iewers by ons aangesluit het!  Andries en Lizette trek af, maar wys alles is reg, ons kan maar aanry.  Ons stop by Riviersonderend en gesels lekker met almal en maak ook ordentlik kennis met Rikus, ‘n nuwe jong vriend wat hopelik by ons gaan aansluit. Dit lyk of hy goed by ons sal aanpas, ons het al klaar gevoel dat hy deel van ons familie is.  Kenny en Gladys kom ook by, asook nuwe lede, Louis en Ronell.

‘n Yslike trop bobbejane wei langs die pad.

By Swellendam is daar ‘n “rally”, ‘n hele boel fietsers kampeer onder bome met hulle eenmantentjies. Hulle bly maar onder die bome, want dit reën steeds liggies.  By La Belle Alliance wag die Tuinroete-groep al vir ons. Hoe lekker om vir Gys en Elise, Fredi en Mirka en nuwe vriende, Nico en Christa, te sien.  Dis ‘n pragtige klein plekkie, dit was voorheen ‘n Vrymesselaarslosie, aldus mnr Google. Die kos is uit die boeke en ons kuier te heerlik met ou en nuwe vriende.  Wing-kleure word aan ons nuwe lede uitgedeel, Andries en Lizette Fourie, Graham en Denise Grill, Nico en Christa Basson en Louis en Ronell de Villiers.  Graham vertel dat hy al 11 jaar die droom gehad het om ‘n Wing te besit, hulle het bietjie getwyfel of hulle nie maar met die motor moes kom weens die reën nie, maar hulle het deurgedruk en hulle eerste nat rit sulsesvol voltooi!  Gerdus en Cynthia wil oorslaap, maar met die “rally” was verblyf moeilik, Cynthia het toe amper plek bespreek by ‘n nudistekamp, maar het besluit dis darem te koud vir soiets!

Dit was ‘n heerlike kuier. Dankie aan Elise wat alles so goed gereël het, en almal wat die moeite gedoen het om saam te ry. Ons moet dit meer gereeld doen!

Wing-groete

Photos of the outride can be viewed HERE.