Western Cape Chapter run: Lambertsbaai on 20 to 22 July 2018

Geskryf deur Amorita Engelbrecht

Ons Wing is nog steeds in die proses om gediens te word – ek dink André sien nie kans vir die koue garage saans nie. Nogal jammer, want Vrydag is toe ‘n lieflike dag vir ‘n rit!  Die velde is oral mooi groen na die droë somer. By Kardoesie, bo by Piekenierskloofpas, is daar al ‘n plaat oranje Namakwalandse madeliefies.  Ook langs die pad by Clanwilliam steek die blomme hulle koppies uit, en hoe wonderlik om die dam so vol te sien, met glads ‘n sluis oop, nadat hy omtrent leeg was toe ons Kakamas toe gegaan het!

By Isabella’s in Lambertsbaai is daar nog niemand nie, toe gaan ons solank na Boetie en Benita Booysen, waar die Nijse ook solank afgeklim het.  Na koffie en gesels, hoor ons die ander is by ons blyplek, Eagle’s Nest, ‘n pragtige plek met die see reg voor ons! Dick en Meisie en Igsaan en Feroza is al klaar daar.

Nadat ons uitgepak het, vertrek ons na Isabella’s. Toe ons die spyskaart sien, weet ons hier kom ‘n ding!  (Ons het die Booysens saamgenooi, daar is baie stories om op te vang.)  Daar is ses gange. Ons word ingelig hoe dit werk en toe begin die feesmaal, die een gereg smaakliker as die vorige. Ons is te bang om een te laat verbygaan en doen ons bes om van elkeen te proe!  Meisie het terug gehou sodat sy genoeg kreef kon eet, voorwaar waarde en met soveel nuwe geure.

Na ‘n lekker kuier, vertrek ons, om met vol magies te gaan slaap, met die branders wat so te sê op ons stoepe breek.

Die beplande bootrit is ongelukkig afgestel. Van die boot se kabels is gesteel, tog jammer, maar miskien ‘n volgende keer.  Pierre moet gaan help met Boetie se buurman se fiets en Godelieve gaan Benita help met naaldwerk. Ons gaan later saam vir geselskap.

Op pad sien ons die ander sit sowaar by ‘n eetplek … of is dit ‘n drinkplek? Vissie van Vredenburg het deurgekom vir die dag, en saam met hulle gekuier. Later die middag kuier ons by die Symingtons en Venters, waar Johan en Christina Hattingh ook heelwat later by ons aansluit. Johan wou nie vir die Garmin-tannie luister nie, toe ry hulle bietjie van ‘n draai!

Aandete was weer heerlik. Na ‘n laaste koffie groet ons die Venters wat baie vroeg gaan vertrek en gaan slaap vir oulaas lekker met die geluid van die branders.  Na ontbyt gaan elkeen sy koers. Die naweek was lekker rustig, windstil en warm. Party het langs die see gestap, ander het met voete in die water gesit en lees en ons was net lui. Die gewone Weskus-wind het begin waai, ons was gelukkig met die stil naweek. ‘n Heerlike wegbreek met vyf-ster akkommodasie en etes en natuurlik al ons vriende se geselsies!

Die pad terug was weer mooi, met kanolavelde wat geel begin uitslaan naby Piketberg en verder net groen landerye.  Dankie, Delph, vir al die reëlings. Hopelik is dit nie die laaste kuier in Lambertsbaai nie!

Tuis moes ons die nuus verneem van Ceraj en Nazli se ongeluk. Na ‘n paar kommervolle dae, kon Krish ons inlig dat Ceraj gelukkig nie ‘n operasie nodig het nie. Nazli is ook net vol kneusplekke en met seer spiere. Ons is dankbaar!